’n Reis terug na die ‘toekoms’

Die Aarde die eerste keer vanaf die maan gesien

Foto: Die Aarde soos dit vir die eerste keer 50 jaar gelede gedurende die eerste maanlanding gesien is. (NASA)

Foto: Die Aarde soos dit vir die eerste keer 50 jaar gelede gedurende die eerste maanlanding gesien is. (NASA)

As jy verkies om te luister eerder as om te lees, klik die speelknoppie hierbo om na die klankopname van die volledige pakket, soos geskryf deur Elsabé Brits en voorgelees deur Susan Booyens, te luister.

Die onmoontlike is 50 jaar gelede vermag: Die eerste twee mense het twee uur en 31 minute lank op die maan geloop, terwyl hul reisgenoot in ’n wenteltuig die fort gehou het.

Hul dramatiese reis, wat allesbehalwe seepglad verloop het, was vol onsekerhede en gevaar, maar met ’n uiteindelike sukses wat die wêreld aangegryp het, skryf Elsabé Brits.

Elsabé Brits

Elsabé Brits, wetenskapjoernalis

Elsabé Brits, wetenskapjoernalis

Neil Armstrong was op 21 Julie 1969 om 02:56:15 (GMT) die eerste mens wat ’n tree op ’n ander plek as die Aarde gegee het. Hy het kort tevore opgemerk dat die oppervlak “byna soos ’n poeier” is. Dít nadat die landing weens ’n tekort aan brandstof byna geaborteer was.

Nou kan jy danksy gerestoureerde beeldmateriaal die dae voor die lansering herleef; deel in die opwinding wat 600 miljoen TV-kykers en nog meer radioluisteraars destyds ervaar het; en na die oorspronklike radio-kommunikasie van die ruimtevaarders en uittreksels van hul minder bekende maar interessante  gesprekke tydens die reis van agt dae luister.

FOTO: Neil Armstrong het hierdie foto van Buzz Aldrin op die maan geneem. Sy refleksie kan in die sonskerm gesien word. Daar is net twee ander foto's van Armstrong op die maan, en enkele dowwe foto’s van die twee saam wat deur 'n 16 mm-film-kamera geneem is. (NASA)

Netwerk24 skryf in dié spesiale Apollo 11-reeks ook oor wat gebeur het in die meer as 21 uur wat Armstrong en Buzz Aldrin in die koue, piepklein maantuig, die Eagle, deurgebring het. Hulle het baie werk op die maan gehad wat nie maklik was nie, en Armstrong se hartklop het soms tot 160 slae per minuut opgeskiet.

Wat het Michael Collins ver en alleen in die Columbia gedoen terwyl sy medebemanningslede op die maan was?

Kyk na unieke foto’s en beeldmateriaal van hul reis: ­ Die Aarde, die maan en hul terugkeer met ’n ongemaklike “plons” in die oseaan, en die lang tyd in isolasie daarna.

Altesaam 400 000 mense het by Nasa gewerk om die Apollo-reise moontlik te maak met tegnologie wat vandag byna lagwekkend verouderd lyk. Tog het hulle daarin geslaag, en uiteindelik het 12 mense soos ontdekkingsreisigers van ouds op die maan geloop.

Oor die maan het Buzz Aldrin destyds gesê ...

"Pragtig, pragtig. ’n Manjifieke verlatenheid."
Buzz Aldrin

Klik en luister self hoe hy dit beskryf.

Buzz Aldrin op die maan

Die afwagting

’n Jaar voordat die Apollo 11-sending die Aarde verlaat het, was daar nog soveel werk om te doen – ’n mens kan skaars glo dat dit vermag is.

Vier bemande sendings moes nog suksesvol gelanseer word voordat ’n enkele tree op die maan geloop kon word.

Dit was pres. J.F. Kennedy wat in Mei 1961 gesê het: “I believe that this nation should commit itself to achieving the goal, before this decade is out, of landing a man on the moon and returning him safely to Earth.”

Daar het egter ’n tragedie op Nasa en al die ruimtevaarders gewag.

Op 27 Januarie 1967 het die drie ruimtevaarders van Apollo 1, Gus Grissom, Ed White en Roger Chaffee, op die lanseerterrein gedurende ’n simulasietoets doodgebrand. Grissom was ’n veteraan van die Mercury- en Gemini-ruimteprogramme en White was die eerste Amerikaner wat tydens die Gemini-sending buite ’n ruimtetuig “geloop” het.

Die bemanning van Apollo 1

Die bemanning van Apollo 1, die eerste bemande sending van hierdie program, het op 27 Januarie 1967 in ’n toetslopie in ’n simulator doodgebrand. Van links is Gus Grissom, Ed White en Roger Chaffee naby Cape Kennedy se lanseerkompleks. Foto: NASA

Die bemanning van Apollo 1, die eerste bemande sending van hierdie program, het op 27 Januarie 1967 in ’n toetslopie in ’n simulator doodgebrand. Van links is Gus Grissom, Ed White en Roger Chaffee naby Cape Kennedy se lanseerkompleks. Foto: NASA

Daarna het bemande sendings Apollo 7, 8, 9 en 10 gevolg – alles tussen Oktober 1968 en Mei 1969 – voordat hulle na die maan kon reis. Apollo 10 was byna soos ’n kleedrepetisie vir Apollo 11. Eugene Cernan het ’n maanmodule tot 16 km van die maan se oppervlak gevlieg om die stelsels te toets. Hy was later in 1972 die laaste mens wat op die maan geloop het.

Baie mense het geglo dat dit onmoontlik sou wees om op die maan te land, omdat die oppervlak soos “dryfsand” sou wees en die ruimtevaarders “ingesluk sou word”. Ander was meer positief en opgewonde, al was die ruimtepakke waarmee hulle gevlieg het met die hand gemaak.

Die gidsrekenaar het 31 kg geweeg en was destyds die beste in sy soort, maar sy geheue was net 36 kilogrepe.  Vandag kan ’n foto met dié resolusie nie eens gedruk word nie. Tog kon dit agt verskillende take beheer. ’n Slimfoon van vandag se geheue is miljoene keer groter.

Apollo sou waarskynlik nie kon vlieg of op die maan kon land as dit nie vir onder andere Margaret Hamilton (vandag 82 jaar oud) was nie.

Hamilton het die span gelei wat die sagteware vir al die Apollo-sendings geskryf het en sy het die term “sagteware-ingenieurswese” uitgedink. Dit was destyds nie eens regtig as ’n beroep gereken nie.

Sy het daarop aangedring dat die programme deurentyd getoets word, want “ons het geen tweede kans nie”, het sy gesê. Sy het haar kind eendag saamgeneem werk toe en nadat dié per ongeluk ’n knoppie op die simulator gedruk het, het sy daarvoor baklei om ’n noodgeval-scenario ingebou te kry. Nasa wou eers niks daarvan hoor nie, omdat hulle gereken het dat ruimtevaarders nooit foute maak nie.

Margaret Hamilton

Margaret Hamilton by die rekenaarkode wat sy geskryf het om Apollo se vlug na die maan moontlik te maak. Sy is een van die vele vroue wat agter die skerms gewerk het. Foto: MIT-Museum

Margaret Hamilton by die rekenaarkode wat sy geskryf het om Apollo se vlug na die maan moontlik te maak. Sy is een van die vele vroue wat agter die skerms gewerk het. Foto: MIT-Museum

Sy het gesê destyds kon sy nie eens ’n lening by die bank sonder haar man se handtekening kry nie, maar sy kon ’n rekenaarprogram skryf om twee mans op die maan te laat land. Die kritieke oomblik het op 20 Julie 1969 gekom net voordat Buzz Aldrin en Neil Armstrong op die maan geland het. Skielik het ’n program-alarm “1202” weerklink, en daarna ook “1201”. Wat was fout?

Die sagteware se alarms was net waarskuwings dat daar nie genoeg ruimte op die rekenaar se geheue was vir al die landingsagteware om te funksioneer nie. Die radar het onnodige inligting na die rekenaar gestuur. Gelukkig het Hamilton se werk gehelp dat die rekenaar kon onderskei wat wel belangrik is en wat nie. Uiteindelik is haar programme in die eerste ruimtestasie, Skylab, en op die pendeltuie gebruik, volgens Nasa se geskiedenisdepartement.

Katherine Johnson (vandag 100 jaar oud), ’n wiskundige wie se werk in die fliek Hidden Figures bekendheid verwerf het, was nóg ’n reus agter die skerms. Sy het saam met Dorothy Vaughn en Mary Jackson die ingewikkelde orbitale meganiese berekeninge gedoen, maar nie met ’n rekenaar nie – met pen en papier.

Katherine Johnson

’n Foto van Katherine Johnson, wat vyf jaar gelede geneem is. Sy is nou 100 jaar oud. Foto: NASA

’n Foto van Katherine Johnson, wat vyf jaar gelede geneem is. Sy is nou 100 jaar oud. Foto: NASA

Hulle is veral bekend daarvoor dat hulle die gevaarlike trajek van die eerste bemande sending van John Glen uitgewerk het, wat die weg vir die Apollo-sendings gebaan het.

Indien hul berekenings foutief was, sou die ruimtevaarders nie na die Aarde kon terugkeer nie. Johnson het ook die maan se oppervlak gekarteer en gehelp om uit te werk waar en hoe geland moet word.

Die twee vroue was deel van die span van 400 000 mense wat jare lank gehelp het dat die eerste mense om die Aarde kon wentel, terugkeer en daar uiteindelik 12 op die maan geloop het.

Neil Armstrong oefen in simulator

Neil Amstrong oefen in ’n simulator voor die Apollo 11-sending in die Kennedy-ruimtesentrum in Florida. Foto: NASA

Neil Amstrong oefen in ’n simulator voor die Apollo 11-sending in die Kennedy-ruimtesentrum in Florida. Foto: NASA

Buzz Aldrin tydens opleiding

Buzz Aldrin ondergaan opleiding vir die Apollo 11-maansending in zero-gravitasie. Foto: NASA

Buzz Aldrin ondergaan opleiding vir die Apollo 11-maansending in zero-gravitasie. Foto: NASA

Apollo 11 en die Saturn V-vuurpyl

Apollo 11 en die Saturn V-vuurpyl word byna ’n maand voor die lansering na die lanseerkompleks, nr. 39A in die Kennedy-ruimtesentrum, in Florida geneem.  Foto: NASA

Apollo 11 en die Saturn V-vuurpyl word byna ’n maand voor die lansering na die lanseerkompleks, nr. 39A in die Kennedy-ruimtesentrum, in Florida geneem.  Foto: NASA


Die nuuskonferensie voor die Apollo 11-sending

Die aand voor die eerste bemande sending na die maan is ’n nuuskonferensie in semi-isolasie gehou. Nasa wou nie kanse vat en die drie ruimtevaarders aan moontlike siektes blootstel nie. Hulle het vanuit ’n klein hokkie op ’n interkom met die media gepraat. Van links is Buzz Aldrin, Neil Armstrong en Michael Collins. Foto: NASA

Die aand voor die eerste bemande sending na die maan is ’n nuuskonferensie in semi-isolasie gehou. Nasa wou nie kanse vat en die drie ruimtevaarders aan moontlike siektes blootstel nie. Hulle het vanuit ’n klein hokkie op ’n interkom met die media gepraat. Van links is Buzz Aldrin, Neil Armstrong en Michael Collins. Foto: NASA

Tydlyn: Só het die reis verloop

Die Apollo 11-embleem

  • 16 Julie 1969 om 13:32:00 (GMT): Lansering  
  • 19 Julie om 17:21:50: In wentelbaan van die maan
  • 20 Julie om 18:12:01: Die Columbia en Eagle skei
  • 20:11:02: Die waarskuwingsalarm “1202” flits
  • Dit flits nog 2 keer, asook alarm-1201, kommer heers oor dié “program-alarms”
  • Neil Armstrong moet die tuig na ‘n ander landingsplek stuur weens ‘n krater en reuse-rotse
  • 20:16:28: Waarskuwing! Min brandstof
  • 20:17:39: Landing, met 20 sek se brandstof oor
  • 21 Julie om 02:39:33: Maak die Eagle se deur oop
  • 21 Julie om 02:56:15: Neil Armstrong sit sy linkervoet op die maan  
  • Armstrong en Buzz Aldrin spandeer 2 uur en 31 minute buite; en altesaam 21 uur en 36 minute op die maan

Aldrin stap op die maanoppervlak.

  • 21 Julie om 17:54:00: Keer terug na die Columbia. Hulle meer vas om 21:35:00
  • 23:41:31: Die Eagle skei van die beheermodule, gaan in wentelbaan om die maan
  • 04:55:42 op 22 Julie: Reis terug begin
  • 24 Julie om 16:50:35: Die beheermodule plons neer in die Stille Oseaan, naby Hawaii
  • 17:29: Die 3 ruimtevaarders word opgepik deur die USS Hornet
  • Vervoer in ‘n kwarantyn-woonwa na Houston, Texas waar hulle 3 weke in isolasie leef.

Apollo 11-embleem

Die Apollo 11-embleem

Die Apollo 11-embleem

Aldrin stap op die maanoppervlak.

Aldrin stap op die maanoppervlak.

Aldrin stap op die maanoppervlak.

Wie was die drie ruimtevaarders?

Op 9 Januarie 1969 het Nasa die bemanning van Apollo 11 amptelik aangekondig. Die maanmodule (The Eagle) se medevlieënier was Buzz Aldrin; die bevelvoerder en vlieënier was Neil Armstrong; en die bevelsmodule (Columbia) se vlieënier was Michael Collins.

Apollo 11-span by Withuis

'n Amptelike geleentheid in die Withuis op uitnodiging van oudpres. Barack Obama was een van die laaste kere dat die drie saam was. (Bron: NASA)

'n Amptelike geleentheid in die Withuis op uitnodiging van oudpres. Barack Obama was een van die laaste kere dat die drie saam was. (Bron: NASA)

Neil Armstrong

  • Gebore: 5 Augustus 1930 in Wapakoneta, Ohio
  • Oorlede: 25 Augustus 2012 weens komplikasies ná 'n hartoperasie

Neil Armstrong

Armstrong het sy studies onderbreek en is as 'n vlootvlieënier in die Koreaanse Oorlog afgeskiet.

Hy begin sy loopbaan aan die National Advisory Committee for Aeronautics as 'n toetsvlieënier en ingenieur, en vlieg 200 tipes helikopters, vliegtuie en vuurpyle.

Hy sluit hom aan by Nasa en word in 1962 'n ruimtevaarder in die Gemini-program. Hy gaan reeds in 1966 ruimte toe op die Gemini 8-sending.

Ná die maanlanding bedank hy in 1971 by Nasa.

Daarna is hy 'n professor in ruimtevlugingenieurswese aan die Universiteit van Cincinnati, Ohio tot in 1979.

Hy is tot sy aftrede in 2002 'n sakeman.

Armstrong was getroud met Janet Shearon in 1956, van wie hy in 1994 geskei is. Hulle het drie kinders. Hy trou met Carol Knight. 

Neil Armstrong

Hy het ná die maanlanding nie van die kalklig gehou nie. Toe hy hoor dat hy die eerste mens op die maan gaan wees, het hy geen emosie getoon nie.

Edwin (Buzz) Aldrin (89)

  • Gebore: 20 Januarie 1930 in Montclair, New Jersey

Buzz Aldrin

Gradueer aan West Point met 'n graad in meganiese ingenieurswese en word 'n lugmagvlieënier in die Koreaanse Oorlog. Kry 'n doktorsgraad in 1963 aan die Massachusetts Institute of Technology.

Nasa kies hom as ruimtevaarder en sy eerste vlug is in 1966 op die Gemini 12-sending.

Hy verlaat Nasa in 1971 en keer terug na die lugmag, maar tree 'n jaar later af om sakeondernemings te begin. Aldrin is 'n ywerige filmondersteuner en skrywer.

In 1988 verander hy sy naam wettig na Buzz. Hy herstel van alkoholisme en praat openlik oor sy stryd teen depressie. Vandag is hy steeds 'n ondersteunder van bemande ruimtevaart, veral wat Mars betref.

Hy is drie keer getroud: Joan Archer, met wie hy drie kinders het, Beverly Van Zile en Lois Driggs Cannon.

Sy kinders beweer hy is nie meer in staat om na homself om te sien nie en het sy geldsake probeer oorneem, maar het die saak in Maart laat vaar.

Hy bly in Satellite Beach, Florida.

Buzz Aldrin

Michael Collins (89)

  • Gebore: 31 Oktober 1930 in Rome, Italië

Michael Collins

Hy het met 'n graad in wetenskap aan West Point gekwalifiseer. Voordat hy hom in 1963 as ruimtevaarder by Nasa aangesluit het, was hy 'n veg- en toetsvlieënier in die lugmag.

Hy is in 1966 die eerste keer die ruimte in as deel van die Gemini 10-sending.

In 1970 het hy by Nasa bedank en hom by die Amerikaanse departement van buitelandse sake aangesluit.

'n Jaar later word hy direkteur van die National Air and Space Museum tot in 1978, waarna hy hom by die Smithsonian Institute aansluit.

Collins begin in 1985 sy eie konsultasie-onderneming in ruimtevaartkunde. Hy skryf ook 'n aantal boeke en is lief vir skilder.

Hy tree af met die rang van generaal-majoor in die Amerikaanse lugmag.

Hy was met Patricia Finnegan tot en met haar dood in 2014 getroud. Hulle het drie kinders.

Collins bly in Marco Island, Florida en in Avon, Noord-Carolina.

Neil Armstrong

Neil Armstrong

Neil Armstrong

Neil Armstrong

Neil Armstrong

Neil Armstrong

Buzz Aldrin

Buzz Aldrin

Buzz Aldrin

Buzz Aldrin

Buzz Aldrin

Buzz Aldrin

Michael Collins

Michael Collins

Michael Collins

Die lansering

Buzz Aldrin het 15 minute alleen in “onverstoorde vergetelheid” gestaan en wag voordat hy die hyser, wat hom verdiepings hoog na Apollo 11 moes neem, betree het. Dit was die dag van Apollo 11 se lansering na die maan.

“Sover as wat die oog kon sien, was daar mense en motors al langs die strand en die hoofweg. Die gety van die hemelbloue see was besig om in te kom. Ek kon die reusagtige Saturn V-vuurpyl onder my en die manjifieke presiesheid van Apollo bo my sien.

“Ek het dit geniet om te wag en die minute in my geheue gebêre as iets wat ek altyd wil onthou.”

Dit is Woensdag 16 Julie 1969 die lansering van Apollo 11 vanaf die Kennedy-ruimtesentrum in Florida. Dit is die eerste bemande sending na die maan met Neil Armstrong, Buzz Aldrin en Michael Collins aan boord.

Neil Armstrong trek aan voor hul vertrek

Neil Amstrong maak gereed om te vertrek. Foto: NASA

Neil Amstrong maak gereed om te vertrek. Foto: NASA

Apollo 11-span word na lanseerplatform geneem

Neil Armstrong, Michael Collins en Buzz Aldrin stap na die voertuig wat hulle na die lanseerplatform gaan neem. Foto: NASA

Neil Armstrong, Michael Collins en Buzz Aldrin stap na die voertuig wat hulle na die lanseerplatform gaan neem. Foto: NASA

Die media tydens die Apollo 11-lansering

Media van oor die wêreld het die lansering bygewoon. Foto: NASA

Media van oor die wêreld het die lansering bygewoon. Foto: NASA

Indien iets sou skeefloop en die Apollo nie vandag gelanseer kan word nie of die sending reeds op die platform geaborteer word, sal dié drie moontlik weer probeer, het dr. Thomas Paine, Nasa se administrateur, die oggend by die ontbyt gesê.

Die stem wat die aftelling doen wat oor die wêreld heen op radio’s en televisies gehoor word, is dié van Jack King, Nasa se hoof van openbare inligting: “10, 9… ontstekingsreeks begin … 6, 5, 4, 3, 2, 1, zero… alle enjins aan. Lansering! Ons het ’n lansering! Dis 32 minute oor. Lansering van Apollo 11!”

KLIK EN LUISTER:
Die oorspronklike radio-kommunikasie van die lansering

Dit is 13:32 (GMT).

Die vyf F1-enjins neem Apollo 11 tot op ’n hoogte van 67 km, waarna die kragtige Saturn V-vuurpyl, wat in fases ontbrand, oorneem sodat Apollo van die Aarde se gravitasie kan wegbreek.

Die lansering van die Apollo 11

Die lansering van Apollo 11 op 16 Julie 1969 om 13:32 (GMT) vanaf lanseerkompleks 39A by die Kennedy-ruimtesentrum in Florida. Foto: NASA

Die lansering van Apollo 11 op 16 Julie 1969 om 13:32 (GMT) vanaf lanseerkompleks 39A by die Kennedy-ruimtesentrum in Florida. Foto: NASA

Die geraas is oorverdowend vir die mense op die grond, maar nie vir die drie ruimtevaarders nie. Vir hulle klink dit soos ’n gewone vliegtuig. In minder as ’n minuut beweeg hulle teen die spoed van klank.

Collins beskryf dit: “Dit is wonderlik om dié monster te voel skud, rammel en rol. Ons is links en regs in klein spastiese plukke teen ons harnasse gegooi.”

Binne 11 minute is die drie ruimtevaarders in ’n wentelbaan om die Aarde, maar dit word net een en ’n half keer gedoen voordat die laaste fase van die vuurpyl 2½ uur later afgevuur word om Apollo op ’n trajek na die maan te plaas. Ten laaste word die uitgediende vuurpyl ontkoppel en agtergelaat, en net die beheermodule – die Columbia – en die maanlandingstuig – die Eagle – sit die reis met die bemanning voort.

Neil Armstrong en Buzz Aldrin afgeneem deur Michael Collins met die 16 mm-kamera, wat sonder klank was, onderweg na die maan. Dit wys hoe uiters beknop die spasie was in die beheermodule. (Met vergunning van: Project Apollo Archive)

Neil Armstrong en Buzz Aldrin afgeneem deur Michael Collins met die 16 mm-kamera, wat sonder klank was, onderweg na die maan. Dit wys hoe uiters beknop die spasie was in die beheermodule. (Met vergunning van: Project Apollo Archive)

Sowat 14 uur ná lansering is dit tyd om te gaan slaap. Die bemanning sal die volgende drie dae onderhoud en waarnemings doen, toerusting nagaan en TV-uitsendings doen.

Aldrin merk op: “Die Aarde het nie veel anders gelyk as op my eerste vlug nie, tog het ek aangehou om daarna te kyk. Vanuit die ruimte het dit byna ’n goedige kwaliteit. Intellektueel weet jy dat daar oorloë aan die gang is, maar emosioneel was dit onmoontlik om sulke dinge te begryp. Die konsep bestaan dat oorloë gewoonlik oor grondgebied of dispute oor grense uitbreek – vanuit die ruimte kan die arbitrêre grense op Aarde nie gesien word nie.”

Personeel in die Kennedy-ruimtesentrum

Personeel van die Kennedy-ruimtesentrum staan op uit hul stoele in die lanseerbeheersentrum om deur ’n venster na die lansering te kyk. Foto: NASA

Personeel van die Kennedy-ruimtesentrum staan op uit hul stoele in die lanseerbeheersentrum om deur ’n venster na die lansering te kyk. Foto: NASA

Op die vierde dag moet hulle die fynste take uitvoer om Apollo se enjins presies reg en lank genoeg te ontsteek en dan te maneuvreer om hul tuig in ’n wentelbaan om die maan te bring – anders is dit klaarpraat. As dit misluk, sal hulle óf die maan mis óf op ’n botsing afstuur.

Wat eens soos ’n tweedimensionele voorwerp gelyk het, lê nou soos die “ontsagwekkendste sfeer” voor hulle. Terwyl hulle slaap, tuimel Apollo na die maan, waar die swaartekrag die tuig nader trek en dit uiteintlik in ’n wentelbaan gaan. Kort voor lank begin hulle om voor te berei om met die Eagle op die maan te land.

Die Eagle ontkoppel op 20 Julie van die Columbia, waarin Collins alleen agterbly.

Hy sien hulle wegbeweeg en dink: “Dit lyk nie soos enige arend wat ek al gesien het nie. Dit is die vreemdste kontrepsie wat nóg in die lug gevaar het, dit dryf daar met sy bene wat ongerieflik bo ’n lyf uitsteek, wat nóg simmetrie nóg grasie het . . . Ek jok so ’n bietjie en rapporteer (aan die ander): ‘Ek dink julle het ’n mooi vliegmasjien daar, Eagle, ten spyte van die feit dat jy onderstebo is.”

Armstrong antwoord: “Sien jou later.”

Collins dink by homself: “Ek hoop so.”

Die maan is nou net 97 km onder Armstrong en Aldrin, en dit is 12 minute voordat hulle op die sogenaamde Sea of Tranquility moet land.

En toe, sowat drie minute voor die landing sê Armstrong met ’n effense dringendheid in sy stem: “Program-alarm.”

* BRONNE: Nasa.gov; Kennedy Space Centre (Apollo 11); Nasa History Office – Apollo Missions to the Moon (edited by Edgar Cortright), Apollo11 Flight Journal.

Hierdie foto van ons planeet is op 17 Julie 1969 geneem toe Apollo 11 al 157 000 km ver van die Aarde was.
Foto: NASA

Die kragtigste vuurpyl nóg!

Die mensdom het 50 jaar gelede vir die eerste keer op die maan geloop. Om die vlug na die maan moontlik te maak is die kragtigste vuurpyl nóg gebruik: Die  Saturn V met die diensmodule, die beheermodule (Columbia) en die landingstuig (Eagle). Saturn V is in 15 vlugte van Apollo 8 tot 17, asook vir Skylab gebruik.

  • Duur van sending: 8 dae, 3 uur en 18 minute

Saturn V-vuurpyl

Die Saturn V-vuurpyl

  • 111 m lank
  • Vol brandstof: 2,8 miljoen kg
  • 1ste fase: Neem Apollo-tuig tot op 68 km
  • 2de fase: Dra die tuig tot byna in sy wentelbaan.
  • 3de fase: Plaas die tuig in sy wentelbaan om die Aarde, en daarna op sy reis na die maan.
  • Die Apollo-tuig was bo-op die Saturn V-vuurpyl en het uit 3 dele bestaan: Die diensmodule, die beheermodule en die landingstuig.

Diensmodule

Binne die diensmodule van Apollo 11

  • Verskaf die krag, aandrywing en stoorplek vir die beheermodule.
  • 7,9m hoog en 3,9 m wyd

Beheermodule: Columbia

Die beheermodule Columbia.

  • Die beheersentrum, maar ook die piepklein blyplek. Hulle het 6 m³ gehad om in rond te beweeg.
  • 3,6 m hoog en 3,9 m wyd
  • Michael Collins was sowat 22 uur alleen in die Columbia.

Landingstuig: Eagle

Die Eagle-landingstuig

  • Die tuig het op 20 Julie 1969 van die Columbia geskei en op die maan geland.
  • 7 m hoog en 2,1 m wyd
  • Neil Armstrong en Buzz Aldrin wag eers ses uur voordat hulle op 21 Julie 1969 op die maan loop.
  • Meer weer vas aan die Columbia ná 21,5 uur op die maan.
  • ‘n Deel van die Eagle bly agter op die maan en een deel in 'n wentelbaan om die maan.

Saturn V-vuurpyl

Die Saturn V-vuurpyl

Die Saturn V-vuurpyl

Diensmodule van Apollo 11

Binne die diensmodule van Apollo 11

Binne die diensmodule van Apollo 11

Beheermodule Columbia vir Apollo 11

Die beheermodule Columbia.

Die beheermodule Columbia.

Die Eagle

Die Eagle-landingstuig

Die Eagle-landingstuig

Die landing

Die Eagle ontkoppel van die Columbia

Die Eagle ontkoppel van die Columbia en is onderweg na die maan. Foto: NASA

Die Eagle ontkoppel van die Columbia en is onderweg na die maan. Foto: NASA

Buzz Aldrin praat met sendingbeheer in Houston.

Buzz Aldrin praat met sendingbeheer in Houston. Foto: NASA

Buzz Aldrin praat met sendingbeheer in Houston. Foto: NASA

Eagle (stem van Buzz Aldrin):
540 voet, af teen 30 voet (per sekonde) . . .
af teen 15 . . . 300 voet . . . kom netjies af . . . 200 voet,
4,5 af . . . 5 persent (brandstof oor) . . . 75 voet …
6 vorentoe  . . . ligte aan . . . 30 voet . . . ligte skaduwee . . .
4 vorentoe . . . 4 vorentoe . .. dryf ’n bietjie na regs . . . oukei.
 

Houston (sendingbeheer): 30 sekondes (se brandstof oor) 

Eagle: Kontaklig. Oukei. Enjin af. 

Houston: Ons bevestig jou af, Eagle. 

Eagle: Houston, Tranquility-basis hier. Die Eagle het geland! 

Houston: Roger.  Twank . . . Tranquility. Ons bevestig jou op die grond. Jy het ’n klomp ouens hier wat op die punt is om blou te word. Ons haal weer asem. Baie dankie. 

Tranquility (die nuwe roepsein op die maan): Dankie . . . Dit mag gevoel het soos ’n baie lang eindfase. Die outomatiese teiken het ons reg na ’n krater so groot soos ’n voetbalveld geneem met ’n groot aantal rotsblokke en rotse . . . En ons moes verder met die hand daar om vlieg sodat ons ’n redelike goeie area kon vind. 

Houston: Roger, Tranquility. Wees net bewus daarvan dat daar baie glimlaggende gesigte hier in die vertrek en oor die wêreld heen is. Oor. 

Tranquility: Wel, daar is twee hierbo. 

Columbia (Collins): En moenie die een in die beheermodule vergeet nie.  

(dialoog effe geredigeer) 

Só het hulle geland.

Dit is hoe Armstrong daarin geslaag het om die Eagle op die maan te land – program-alarms wat weergalm, die brandstof wat kritiek min raak en die landingsarea wat glad nie ideaal is nie.  

Hy moes self die Eagle vlieg en met bitter min brandstof stuur na ’n oppervlak wat meer geskik is – al was die terrein vreemd vir hom. Die stof was so erg dat hy skaars kon sien wat tussen al die kraters aangaan. 

Dit was perfek en 'n nuwe wêreld kon ontdek word. 

Die rede hoekom die program-alarms onophoudelik gegons het, was omdat die gidsrekenaar baie take tegelyktydig moes uitvoer en volgens voorkeur gewerk het. Hoewel die aanhoudende geraas van die alarms senutergend was, het die ruimtevaarders en die personeel in Houston danksy hul opleiding kalm gebly. Hulle het egter gou besef dat dit net die rekenaar is wat sy werk doen. 

En op die Aarde, was daar spanning.

Die Eagle het op Sondag 20 Julie 1969 om 20:17:40 (GMT) op die maan geland – hul eerste poging was suksesvol. Die ruimtevaarders het nie dadelik die luik oopgemaak en die maan gaan verken nie. Hiervoor sou hulle en die wêreld meer as ses uur lank moes wag. 

Daar was baie tegniese werk om te doen – taaklyste om na te gaan en toetse om seker te maak dat alles in orde is, foto’s wat geneem moes word en talle voorbereidings voordat daardie luik oopgeskuif kon word.  

Op beide moue is taaklysies vasgewerk

Die oorspronklike handskoene wat Neil Armstrong op die maan gedra het. Let op dat taaklysies op beide moue vasgewerk is. Foto: NASA

Die oorspronklike handskoene wat Neil Armstrong op die maan gedra het. Let op dat taaklysies op beide moue vasgewerk is. Foto: NASA

“Die stof het dadelik gaan lê nadat ons op die oppervlak was en ons het ’n wonderlike uitsig van die area om die LM (landingsmodule) gehad. Ons het ’n krateroppervlak gesien met pokmerke – kraters van tot 15, 20, 30 voet en baie kleiner kraters tot een voet in deursnee. Die oppervlak was fyn korrels, en daar was ’n verrassende aantal rotse van alle groottes,” het Armstrong gesê. 

Intussen was Collins alleen in die Columbia in ’n wentelbaan om die maan. Hy beskryf dit in die maandagboek as volg: “Ek is nou alleen, waarlik alleen, en heeltemal geïsoleerd van alle lewe. Ek is dit. As daar getel moet word, sal die telling wees drie miljard plus twee aan daardie ander kant van die maan, en een plus, God weet wat, aan dié kant.” 

Dit was omdat hy gedurende dié omwentelings periodes van algehele afsondering ervaar het: 48 minute op ’n slag wanneer hy agter die maan verbygegaan het. Dan het hy geen radiokommunikasie met die Aarde gehad nie, ook nie met sy mede-bemanningslede nie. Daar was net die maan tussen hom en die res van alles wat lewe – sowat 22 uur lank. 

Hy het vanjaar in ’n onderhoud met die BBC gesê hy het nie gedink dat hy die “beste sitplek van die drie gehad het nie, maar dat ek in alle eerlikheid kan sê ek was in ekstase oor die sitplek wat ek wel gehad het”. Hy was ook baie onder die indruk van die moontlikheid dat hy dalk alleen na die Aarde sou moes terugkeer indien iets sou skeefloop. 

Kort voordat Armstrong uit die Eagle geklim het, en albei reeds die moeisame proses om aan te trek afgehandel het en die lugdruk in die kajuit aangepas is, vra Aldrin: “Oukei, byna gereed om maanrotse te gaan haal?"  

Die swaartekrag is net ’n sesde van  die Aarde s’n. Enigiets kon skeefloop en in ’n noodgeval sou hulle gereed moes wees om dadelik van die maan af pad te gee en aan die Columbia te gaan vasmeer.

Om uit te klim moes Armstrong op sy knieë staan, met sy rug na Aldrin gedraai, en dan moes hy sy voete na die luik draai. Aldrin moes help om hom te navigeer en te sê presies waar hy moes trap. “ Alles reg, beweeg na jou . . . rol na links. Oukei. Nou is jy vry. Jy is gelyk met die platform. Sit jou linkervoet effens na regs. Oukei. Dis goed. Rol links. Goed,” lei Aldrin hom. 

Hulle maak seker kommunikasie met Houston is 100% en dat die TV-kamera aan boord werk. Dit neem meer as vyf minute om behoorlik uit te kom. Daar is ook ’n 16 mm-kamera aan boord wat albei sal afneem terwyl hulle hul land se vlag plant. 

Armstrong staan op die boonste trappie in die TV-kamera se visier. Perfek. Die gewildste TV-uitsending van die eeu sou hierdie regstreekse een wees wat binnekort sou volg. Die ruimtevaarders het die kamera met hulle saamgeneem en dit in die landingstuig, die Eagle, gestoor met net die lens wat onder ’n termiese kombers uitgesteek het. 

Die regstreekse uitsending na die Aarde het begin toe Aldrin die kamera aangeskakel het. Die sein is deur ’n antenna op die Eagle na onder meer ’n radioteleskoop in Australië en van daar met satelliete na Houston in die VSA en die res van die wêreld gestuur. 

Miljoene mense was vasgenael. Dit was 21 Julie 1969, enkele minute voor 03:00 (GMT). 

En Armstrong se beskrywing net voordat hy afgeklim het: “Ek is by die voet van die leer. Die LM (maanmodule) se voetstukke is net sowat ’n duim of twee in die oppervlak weggesink. Al lyk die oppervlak soos baie, baie fyn korrels, is dit soos jy naderkom byna soos ’n poeier. Die grondmassa is baie fyn. 

KLIK EN LUISTER
Neil Armstrong beskryf wat hy sien

“Oukei. Ek gaan nou van die LM afstap. (Lang pouse) . . .” 

BRONNE: Nasa.gov; Kennedy Space Centre (Apollo 11);  Nasa History Office – Apollo Missions to the Moon (edited by Edgar Cortright);  Apollo11 Flight and Surface Journal;  History Collection – Johnson Space Centre; Chariots for Apollo: A History of Manned Lunar Spacecraft. 

Pas nadat Neil Amstrong en Buzz Aldrin op die maan geland het, is dit wat Amstrong by sy venster uit gesien het

Pas nadat Neil Amstrong en Buzz Aldrin op die maan geland het, is dit wat Amstrong by sy venster uit gesien het, onder meer dié dubbele krater van 10 m in deursnee. Foto: NASA/KSC

Hierdie is ‘n saamgestelde panoramafoto wat wys wat die ruimtevaarders gesien het net nadat hulle op die maan geland het.

Hierdie is ‘n saamgestelde panoramafoto wat wys wat die ruimtevaarders gesien het net nadat hulle op die maan geland het, onder meer ‘n krater nie ver van waar hulle geland het nie. Foto: NASA/Syd Buxton

Pas nadat Neil Amstrong en Buzz Aldrin op die maan geland het, is dit wat Amstrong by sy venster uit gesien het, onder meer dié dubbele krater van 10 m in deursnee. Foto: NASA/KSC

Hierdie is ‘n saamgestelde panoramafoto wat wys wat die ruimtevaarders gesien het net nadat hulle op die maan geland het, onder meer ‘n krater nie ver van waar hulle geland het nie. Foto: NASA/Syd Buxton

Die eerste tree

Eerste foto deur Neil Armstrong

Die heel eerste foto wat Neil Armstrong geneem het nadat hy die eerste tree op die maan gegee het. Foto: NASA

Die heel eerste foto wat Neil Armstrong geneem het nadat hy die eerste tree op die maan gegee het. Foto: NASA

Dit het soos ’n ewigheid gevoel nadat die Eagle se luik oopgemaak is en Neil Armstrong uiteindelik met sy linkervoet op die maan getrap het. ’n Byna onuithoudbare tydsverloop van 15 sekondes het gevolg nadat hy gesê het hy gaan afklim tot: 
“That’s one small step for man . . . one giant leap for mankind.”

Daardie eerste tree op die maan was om 02: 56:15 (GMT) op 21 Julie 1969 – 50 jaar gelede. Dit was slegs 65 jaar en ses maande nadat die Wright-broers, Orville en Wilbur, die wêreld se eerste suksesvolle vliegtuig, die Flyer, gebou en gevlieg het. 

KLIK EN LUISTER
Luister na die oorspronklike radiosending van die eerste tree op die maan.
(Bron: Project Apollo Archive/Kennedy Space Center)

Terwyl Armstrong die omgewing beskryf, samel hy vinnig monsters in en sit dit in ’n sak vir ingeval hulle skielik die maan moet verlaat. Sowat 19 minute later sluit Aldrin hom by Armstrong aan. 

Hierdie voetspore van Buzz Aldrin se stewels is van die eerste voetspore van die mens op die maan. 

Hierdie voetspore van Buzz Aldrin se stewels is van die eerste voetspore van die mens op die maan. Foto: NASA

Hierdie voetspore van Buzz Aldrin se stewels is van die eerste voetspore van die mens op die maan. Foto: NASA

Met die maan wat net ’n sesde van die Aarde se swaartekrag het, moet hulle met elke tree ses tot sewe treë vooruit dink oor waar hulle dalk mag land. Die ruimtepak met die rugsak, waarin die lewensondersteuningstelsel is, tesame met Aldrin se liggaamsgewig weeg op Aarde 163,2 kg, maar op die maan het dit slegs 27,2 kg geweeg.

Aldrin beskryf dit: “Ek het veerkragtig gevoel en was die ene hoendervel toe ek op die maan se oppervlak afgeklim het. Ek het dadelik afgekyk na my voete en was nuuskierig oor die vreemde voorkoms van die maanstof. As ’n mens op die strand sand opskop, spat dit in verskeie rigtings met sommige korrels wat verder trek as ander. Op die maan trek die stof presies dieselfde en elke korrel land byna op dieselfde afstand.”

Die twee het baie gehad om in die slegs 2½ uur buite op die maan te doen. “Ons het die probleem van ’n vyfjarige seun in ’n lekkergoedwinkel gehad,” sê Armstrong. Dit was effens frustrerend.

KLIK EN LUISTER
Neil Armstrong se eerste beskrywing
(Bron: Project Apollo Archive/Kennedy Space Center)

Eers onthul hulle die vlekvrye staalplaatjie aan die stut van die Eagle en lees die boodskap hardop: “Here Man from the planet Earth first set foot upon the Moon, July 1969 A.D. We came in peace for all mankind.”

Kort daarna is dit tyd om die Amerikaanse vlag te “hys”. Die horisontale paal waaraan die vlag vasgeheg is, is ingeskuif en moet uitgetrek word. Hulle sukkel om dit heeltemal uitgetrek te kry, bang dat dit op die rotsagtige oppervlak kan val en hulle doen dit nie heeltemal nie. Hulle druk die vertikale paal net 15 cm die grond in, omdat die grond baie hard is.

Buzz Aldrin staan op 21 Julie 1969 by die Amerikaanse vlag op die maan.

Buzz Aldrin staan op 21 Julie 1969 by die Amerikaanse vlag op die maan. Kenners het hierdie foto sedertdien digitaal verbeter. Neil Armstrong het die foto geneem. Daar is egter min foto’s van hom op die maan. Foto: NASA

Buzz Aldrin staan op 21 Julie 1969 by die Amerikaanse vlag op die maan. Kenners het hierdie foto sedertdien digitaal verbeter. Neil Armstrong het die foto geneem. Daar is egter min foto’s van hom op die maan. Foto: NASA

Een van die enkele foto’s van Neil Amstrong (links) en Buzz Aldrin saam op die maan.

Een van die enkele foto’s van Neil Amstrong (links) en Buzz Aldrin saam op die maan. Dit is met die 16 mm-filmkamera aan boord van die Eagle geneem. Foto: NASA

Een van die enkele foto’s van Neil Amstrong (links) en Buzz Aldrin saam op die maan. Dit is met die 16 mm-filmkamera aan boord van die Eagle geneem. Foto: NASA

Omdat die horisontale paal nie heeltemal uitgetrek is nie, is die vlag effens golwend, wat dit laat lyk asof ’n wind dit laat wapper, maar dit is nie werklik die geval nie.

“Ek was bang dat die Amerikaanse vlag voor die televisiekamera in die maanstof sou val,” sê Aldrin.

Kyk hoe word die vlag geplant! (Bron: Nasa/Kennedy-ruimtesentrum)

Sowat 600 miljoen mense oor die wêreld heen het regstreeks na die gebeure op die TV-uitsending (danksy dié kamera wat saamgeneem is na die maan) gekyk, terwyl miljoene ander daarna op die radio geluister het. Dit sou een van dié dae word wat mense altyd sou onthou waar hulle op dié betrokke dag was.

Pres. Richard Nixon van Amerika het uit sy ovaalkantoor in Washington regstreeks met die ruimtevaarders op die maan gepraat. Hy sê onder meer: “For one priceless moment in the whole history of man, all the people on this Earth are truly one; one in their pride in what you have done, and one in our prayers that you will return safely to Earth.”

Die tyd raak nou min en daar is baie werk wat nog afgehandel moet word. Dit behels die insameling van monsters, die neem van foto’s en eksperimente wat gedoen moet word. Die wetenskaplikes op die Aarde verwag twee kernbuismonsters. Aldrin moet die buise met ’n hamer in die klipharde grond inkap en die monsters onttrek. Armstrong loop rond en neem foto’s, versamel  grond en klippe, en verpak dit in bokse. Hulle versamel 21,5 kg se maanmateriaal – die eerste nóg.

Buzz Aldrin maak gereed vir twee eksperimente op die maan.

Buzz Aldrin maak gereed vir twee eksperimente op die maan. Dit was onderskeidelik ’n seismiese en ’n laser-eksperiment. Foto: NASA

Buzz Aldrin maak gereed vir twee eksperimente op die maan. Dit was onderskeidelik ’n seismiese en ’n laser-eksperiment. Foto: NASA

Dit is tydrowende en uitputtende werk. Hulle oefen ook verskillende tegnieke van beweeglikheid, waaruit ander ruimtevaarders ná hulle kan leer, omdat daar tot in daardie stadium nog baie onsekerheid was oor hoe om op die maan te beweeg. 

Buzz Aldrin doen die kangaroe-hop. (Bron: Nasa/Kennedy-ruimtesentrum)

Hulle doen ’n sonwind-eksperiment om die chemiese samestelling te bepaal, en gebruik ’n seismiese instrument wat waardevolle data oor die interne struktuur van die maan na die Aarde terugstuur. In die laser-eksperiment word die afstand tussen die maan en die Aarde met ’n akuuraatheid tot op 8 cm gemeet. (Dié eksperiment het nog tot in Junie 1981 voortgegaan.)

Buzz Aldrin kry die sonwind-eksperiment op die maan gereed.

Buzz Aldrin kry die sonwind-eksperiment op die maan gereed. Die Eagle kan op die agtergrond gesien word. Foto: NASA

Buzz Aldrin kry die sonwind-eksperiment op die maan gereed. Die Eagle kan op die agtergrond gesien word. Foto: NASA

Aldrin: “Die verlatenheid van die skaduwees en die woestynagtige dorheid van die res van die oppervlak het ’n groot indruk op my gemaak. Dit wissel van ’n stowwerige grys tot ’n ligte geelbruin . . . Ons kon rondkyk en die Aarde sien, wat, al is dit baie groter as die maan, klein gelyk het – ’n winkende oase wat ver weg skyn.”

Aldrin hoor hy het nog net tien minute buite op die maan oor en probeer om alles so vinnig as moontlik af te handel. Albei die ruimtevaarders haas om alles gedoen te kry en dan laat sendingbeheer in ’n kodeboodskap (wat die gewone publiek nie kan verstaan nie) weet: “Neil, dis is Houston. Versoek ’n EMU-kontrole. Oor.”

Hy antwoord met inligting oor sy ruimtepak se lugdruk, suurstof en dat die verkoeling in orde is. Sendingbeheer maan hom omdat sy hartklop 160 slae per minuut (teenoor Aldrin se 105) is. Hulle is bang dat hy homself ooreis.

So is die twee eksperimente op die maan gedoen.

So is die twee eksperimente op die maan gedoen. Daarbenewens moes die ruimtevaarders binne 2½ uur ook onder meer die Amerikaanse vlag plant, ’n plaak onthul, grond- en rotsmonsters versamel en ’n oproep na pres. Richard Nixon maak. Foto: NASA.

So is die twee eksperimente op die maan gedoen. Daarbenewens moes die ruimtevaarders binne 2½ uur ook onder meer die Amerikaanse vlag plant, ’n plaak onthul, grond- en rotsmonsters versamel en ’n oproep na pres. Richard Nixon maak. Foto: NASA.

Ná ’n uur en 41 minute buite moet Aldrin terugkeer en 12 minute later volg Armstrong, om 05:09.32 (GMT). Hulle katrol die bokse en die ander toerusting aan boord. Sowat twee minute nadat Armstrong terug in die Eagle is, maak hulle die luik toe.

Die héle tog buite op die maan het twee uur en 31 minute geduur. Saam het hulle sowat 250 m ver geloop, maar nooit verder as 100 m van die Eagle afgedwaal nie sodat hulle binne sig van die TV-kamera kon bly.

Hulle gooi ’n klomp goed uit wat hulle nie meer gaan gebruik nie om ruimte te maak, maar daar is steeds ’n “wavrag goed”. Toe die toerusting die oppervlak van die maan tref, neem die seismometer ’n meting wat op die Aarde registreer.

“Halleluja!” sê Collins, wat hoor hulle is veilig terug in die Eagle en dat die lugdruk herstel is. Hulle hoor hom egter nie omdat daar weens probleme met die radio-antenna ’n kommunikasie-onderbreking is.

Eers nadat hulle teruggekeer het na die Aarde en die films ontwikkel is, is besef dat Armstrong omtrent al die foto’s op die maan geneem het omdat dit deel van sy taaklys was. Hulle het glad nie daaraan gedink om mekaar af te wissel sodat hy ook, buiten vir die een foto, afgeneem word nie. Hy is wel op die TV- en 16 mm-kameras vasgelê.

Die enigste foto van Neil Armstrong

Buiten die beelde van TV-kamera en die 16 mm-flimkamera is daar nie foto’s van Neil Armstrong buite op die maan buiten dié een wat Buzz Aldrin geneem het nie. Dit was nie dat hy sku was vir die kamera nie, volgens die taaklys was dit sy opdrag om die kamera by hom te hê en die foto’s te neem. Foto: NASA

Buiten die beelde van TV-kamera en die 16 mm-flimkamera is daar nie foto’s van Neil Armstrong buite op die maan buiten dié een wat Buzz Aldrin geneem het nie. Dit was nie dat hy sku was vir die kamera nie, volgens die taaklys was dit sy opdrag om die kamera by hom te hê en die foto’s te neem. Foto: NASA

Neil Armstrong neem sy eie skaduwee op die maan af.

Neil Armstrong het sy eie skaduwee op die maan met die Eagle in die verte afgeneem. Foto: NASA

Neil Armstrong het sy eie skaduwee op die maan met die Eagle in die verte afgeneem. Foto: NASA

Dadelik wou die wetenskaplikes op die Aarde ’n magdom antwoorde hê. Maar Armstrong het sy voet neergesit en gesê: "’n Ander keer asseblief". Daar was binne die Eagle so baie stofdeeltjies dat die twee gesukkel het om dit nie in te asem nie. Armstrong het gesê die kajuit ruik na “nat as” en volgens Aldrin het dit geruik asof “ ’n vuurwerk daarbinne afgegaan het”.

Hulle sit hul helmets weer op om te keer dat hulle die fyn stof inasem en vir ingeval die lugdruk val. Dit was ook deels omdat die twee met hul eie eksperiment besig was.

Die klein bietjie grond wat Armstrong heel eerste opgetel het vir ingeval hulle nie genoeg tyd sou hê indien hulle die maan skielik moes verlaat nie, het hy uitgehaal en op die tuig se enjin gegooi. Terwyl hulle die lugdruk in die kajuit herstel, wou hulle seker maak dat die maanstof nie dalk begin smeul nie, want dan sou hulle dit moes uitgooi.

Die krater in die skaduwee was naby die landingsarea.

Die krater in die skaduwee was naby die landingsarea en die voorwerp op die voorgrond is die ruimtevaarders se 35 mm-stereokamera. Foto: NASA

Die krater in die skaduwee was naby die landingsarea en die voorwerp op die voorgrond is die ruimtevaarders se 35 mm-stereokamera. Foto: NASA

Dit was vuil, raserig, beknop en te helder in die tuig, maar die twee moes vir die volgende sewe uur probeer slaap voordat hulle weer kon opstyg. Dit was boonop vrek koud en daar was geen beddens nie. En met die opwinding van die maan agter die rug sou geen mens mos enige slaap kon inkry nie. 

Armstrong was nooit juis uitgesproke of emosioneel nie, maar hy het later die gevoelens gedeel wat by hom opgekom het kort nadat hy op die maan begin stap het: “Die besef het skielik by my opgekom dat die klein ertjie, mooi en blou, die Aarde is. Ek het my duim opgehou en een oog toegeknyp, en my duim het die planeet Aarde uitgeklad. Ek het nie soos ’n reus gevoel nie. Ek het baie, baie klein gevoel.”

 ’n Voorstelling van die gedenkplaatjie wat op die maan agtergelaat is.

’n Voorstelling van die gedenkplaatjie wat op die maan agtergelaat is. Dit is aan die stut van die landingstuig, die Eagle, vasgeheg en is van vlekvrye staal. Die ruimtevaarders het net die dun lagie vlekvrye staal wat dit tydens die vlug bedek het, afgetrek. Foto: NASA

’n Voorstelling van die gedenkplaatjie wat op die maan agtergelaat is. Dit is aan die stut van die landingstuig, die Eagle, vasgeheg en is van vlekvrye staal. Die ruimtevaarders het net die dun lagie vlekvrye staal wat dit tydens die vlug bedek het, afgetrek. Foto: NASA

KLIK EN STAP SAAM OP DIE MAAN
Gaan loop self op Apollo 11 se landingsterrein rond en bekyk dinge met behulp van nuwe tegnologie.

BRONNE: Smithsonian Air & Space Museum; Kennedy Space Centre; Nasa Space Science Data Coordinated Archive; Apollo 11 Lunar Surface Journal; Nasa History Office – Apollo Missions to the Moon (edited by Edgar Cortright);  Chariots for Apollo: A History of Manned Lunar Spacecraft.

Die reis terug

Die maan is nie die ideale plek om te slaap nie, veral nie as jy wag om weer op te styg nie. Die Eagle het ’n teleskoop aan boord gehad en die Aarde se gloed het (soos ’n gloeilamp) regdeur die lens tot in Armstrong se oë geskyn. Die res van die ligte kon ook nie afgeskakel word nie.  

Waar hy met sy bene in ’n strop op die afvlug-enjin gelê het, kon hy ook nie beweeg nie – daar was nie plek nie. Armstrong was daarna nie seker of hy enigsins in die sewe-uur-rustyd geslaap het nie. Aldrin, wat op die grond gelê het, het darem ’n paar uur se rustelose slaap ingekry. 

Neil Armstrong terug in die Eagle kort nadat hy op die maan geloop het.

Neil Armstrong terug in die Eagle kort nadat hy op die maan geloop het. Hy en Buzz Aldrin moes eers slaap voordat hulle weer kon opstyg en aan die Columbia gaan vasmeer. Foto: NASA 

Neil Armstrong terug in die Eagle kort nadat hy op die maan geloop het. Hy en Buzz Aldrin moes eers slaap voordat hulle weer kon opstyg en aan die Columbia gaan vasmeer. Foto: NASA 

Buzz Aldrin in die Eagle nadat hy op die maan geloop het. 

Buzz Aldrin in die Eagle nadat hy op die maan geloop het. Foto: NASA 

Buzz Aldrin in die Eagle nadat hy op die maan geloop het. Foto: NASA 

Ná al die voorbereidings vir hul opstyging, asook kommunikasie met die Aarde en Collins is hulle gereed om te vertrek: 21 uur en 36 minute nadat hulle op die maan geland het.  

Dit is 21 Julie om 17:54:01 toe die Eagle opstyg om na die Columbia te vertrek, en dit was meer as 124 uur nadat Apollo 11 die Aarde verlaat het. 

In daardie tyd het Collins al 18 keer alleen om die maan gewentel – hy het in dié tyd probeer om die Eagle raak te sien, maar hy kon nooit daarin slaag nie. Toe die tyd aangebreek het vir die Eagle om terug te keer het hy die Columbia so geposisioneer dat die radar-antwoordsender op die Eagle se radarsein gerig is. 

KLIK EN LUISTER
Die Eagle styg van die maan af op. 

En, hulle verlaat die maan: 

Aldrin: “Ons is weg. (Pouse) Kyk na daai goed oral oor die plek (insulasie van die landingsfase). Kyk na die skaduwee (van die Eagle). Pragtig.”  

Hy kyk lank genoeg af en sien hoe die vlag omval. 

Armstrong: “Die Eagle het vlerke.” 

Sowat vyf minute later, ná ander kommunikasie tussenin, sê hy: “Lyk goed hier. Dis ’n redelike skouspelagtige rit.” 

Toe moes hulle die Columbia inhaal, en drie uur en tien minute later was hulle by Collins. Die spoed was perfek en Collins het die ingewikkelde maneuvers net reg gedoen. Vier uur nadat hulle van die maan opgestyg het, meer hulle aan Columbia vas. 

'n Ongeredigeerde film wat Collins met ’n 16 mm-kamera geneem het terwyl die Eagle Columbia nader om vas te meer. Eers kan net ’n lig gesien word wat flits en daarna die tuig wat al nader kom. BRON: Apollo Flight Journal 

Daar was nie veel meer oor vir die bemanning om te doen nie, buiten roetinetake, soos om die materiaal uit die Eagle uit te pak, te rus, eet en om foto’s te neem. Daar wag ook nog TV-uitsendings na die Aarde. 

Terwyl die Eagle die maan verlaat het, was daar reeds ’n ander tuig in ’n wentelbaan. Die Luna 15 van die Sowjetunie wat reeds op 13 Julie nog voor Apollo 11 gelanseer is. Luna 15 was onbeman en die Russe het gesê dit is ’n wetenskapsending om monsters te versamel. 

Net twee uur voordat die Eagle weer van die maan sou opstyg, het Luna 15 sy enjins gevuur om te land. Die tuig het egter gebots met die maan in ’n gebied wat bekend staan as die Sea of Crisis, 840 km noord van waar die Eagle was. 

Die volgende dag, net ná middernag op die 22ste, word die Eagle losgelaat. Niemand weet wat daarvan geword het nie, maar dit het vermoedelik ’n maand of vier later met die maan gebots. 

Slegs vier lande het nie hul burgers oor die maanlanding ingelig nie, hoor sendingbeheer in Houston, en dit is China, Albanië, Noord-Korea en Noord-Viëtnam. Die res van die wêreld het geweet. 

Dit is in die TV-uitsendings waarin die mensdom die eerste keer effens in die ruimtevaarders se ervarings kon deel. 

Collins: “Hierdie reis na die maan mag dalk eenvoudig of maklik gelyk het. Ek wil julle egter verseker dit was nie die geval nie . . . Die operasie is byna soos die periskoop van ’n duikboot. Al wat jy sien, is die drie van ons, maar agter die skerms is duisende en duisende ander mense en aan almal van hulle wil ek baie dankie sê.” 

Aldrin: “Ons meen dit is ’n simbool van die onblusbare entoesiasme van die hele mensdom om die onbekende te verken . . . Ons het die uitdaging aanvaar om na die maan te gaan, en die aanvaarding daarvan was onvermydelik. Die relatiewe gemak waarmee ons die sending voltooi het, dien as erkenning van die tydigheid daarvan . . .

Persoonlik, wanneer ek oor die afgelope paar dae daaroor reflekteer, skiet ’n vers uit die Psalms my te binne: ‘As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?’ ” 
Buzz Aldrin

Armstrong: “Die vlug was eerstens deur die toedoen van die geskiedenis, en dié van die reuse in die wetenskap wat dit voorafgegaan het. En danksy die Amerikaanse volk, wat hul behoefte aangedui het, en volgende, vier administrasies en hul kongresse wat hierdie wil uitgevoer het. En dan die agentskap en bedryf wat die ruimtetuig gebou het … God seën julle. Goeie nag van Apollo 11 af.” 

Die lewe op Aarde sou nooit weer dieselfde wees nie. 

BRONNE: Nasa History Office – Apollo Missions to the Moon (edited by Edgar Cortright); Chariots for Apollo: A History of Manned Lunar Spacecraft. Where No Man Has Gone Before: A History of Apollo Lunar Exploration Missions Nasa Special Publication (W. David Compton); Smithsonian; Nasa Space Science Data Coordinated Archive en Apollo Flight Journal. 

Van die maanklippe wat na die Aarde teruggebring is.

Van die maanklippe wat na die Aarde teruggebring is. As voorsorgmaatreël is dit op 5 Augustus 1969 die eerste keer in ’n lugleë laboratorium oopgemaak. 

Van die maanklippe wat na die Aarde teruggebring is. As voorsorgmaatreël is dit op 5 Augustus 1969 die eerste keer in ’n lugleë laboratorium oopgemaak. 

Koerantopskrifte oor die maanlanding

Só het die wêreld se koerante berig oor die geskiedkundige maanlanding. 

Só het die wêreld se koerante berig oor die geskiedkundige maanlanding. 

Op pad terug na die Aarde het die bemanning van Apollo 11 dié foto van die maan geneem. 

Op pad terug na die Aarde het die bemanning van Apollo 11 dié foto van die maan geneem. Foto: NASA 

Op pad terug na die Aarde het die bemanning van Apollo 11 dié foto van die sekel-Aarde geneem.

Op pad terug na die Aarde het die bemanning van Apollo 11 dié foto van die sekel-Aarde geneem.  

Op pad terug na die Aarde het die bemanning van Apollo 11 dié foto van die maan geneem. Foto: NASA 

Op pad terug na die Aarde het die bemanning van Apollo 11 dié foto van die sekel-Aarde geneem.  

Die seelanding

Op die oggend van 24 Julie 1969 hoor die Apollo 11-bemanning dat hulle hul vlug moet aanpas weens swak weerstoestande in die oorspronklike landingsgebied. Die Columbia se nuwe landingsgebied was honderde kilometers vanaf Hawaii in die Stille Oseaan.  

Die Columbia se temperatuur was tot 2 760 °C aan die buitekant toe hulle die Aarde se atmosfeer weer binnegedring het. Die bemanning kon sien hoe stukke van die hitteskerm, wat ontwerp is om te smelt, wegspat.  

Die beheermodule, Columbia, skei op 24 Julie om 16:21:31 (GMT) van die diensmodule sodat net die kern, die kapsule, na die Aarde terugkeer. Sowat 3 km bo die oppervlak ontplooi drie reuse-valskerms om hul spoed te help breek. 

Swem 1 (herwinningshelikoper): “Roger. Dit is Swem 1, Apollo 11.” 

Neil Armstrong: “300 voet.” 

Swem 1: Roger. “Julle lyk baie goed (lang pouse).” 

Swem 1: “Neergeplons! Apollo het neergeplons.” 

KLIK EN LUISTER:
Apollo 11 keer terug
 

Daarna het die skip, die USS Hornet, en die helikopter met mekaar gekommunikeer en Collins het later gesê: “Ons al drie se toestand is uitstekend. Ons is net eersteklas. Neem jul tyd.”    

Hulle was om 16:50:35 (GMT) op 24 Julie 1969 terug op die Aarde nadat hulle  agt dae, drie uur en 18 minute lank weg was. Met die neerplons in die see het die kapsule onderstebo op sy neus gedraai, maar met die druk van ’n knoppie is ballonne ontplooi wat dit weer regop gedraai het. 

Die Apollo 11-ruimtevaarders wag dat ’n helikopter hulle oppik en na die USS Hornet neem.

Die Apollo 11-ruimtevaarders wag dat ’n helikopter hulle oppik en na die USS Hornet neem. Die drie asook die vlootduiker by hulle dra biologiese isolasiepakke. Die Columbia het 1 300 km suidwes van Hawaii en sowat 20 km van die skip af in die see neergeplons. Foto: NASA

Die Apollo 11-ruimtevaarders wag dat ’n helikopter hulle oppik en na die USS Hornet neem. Die drie asook die vlootduiker by hulle dra biologiese isolasiepakke. Die Columbia het 1 300 km suidwes van Hawaii en sowat 20 km van die skip af in die see neergeplons. Foto: NASA

Vreugde in sendingbeheer.

Vreugde in sendingbeheer. Die bemanning van Apollo 11 is veilig terug ná meer as agt dae in die ruimte. Foto: NASA 

Vreugde in sendingbeheer. Die bemanning van Apollo 11 is veilig terug ná meer as agt dae in die ruimte. Foto: NASA 

Die kapsule van die Columbia word op 24 Julie 1969 opgelaai deur die USS Hornet.

Die kapsule van die Columbia word op 24 Julie 1969 opgelaai deur die USS Hornet, wat spesiaal gestuur is om die bemanning en hul tuig te gaan oppik. Die skade van die hitte toe die kapsule weer die atmosfeer van die Aarde binnegekom het, kan duidelik gesien word. Foto: NASA 

Die kapsule van die Columbia word op 24 Julie 1969 opgelaai deur die USS Hornet, wat spesiaal gestuur is om die bemanning en hul tuig te gaan oppik. Die skade van die hitte toe die kapsule weer die atmosfeer van die Aarde binnegekom het, kan duidelik gesien word. Foto: NASA 

Dit was ’n ver reis oor 1,7 miljoen km. 

Duikers van die vloot was vinnig daar in rubberbote en het die Apollo-bemanning isolasiepakke gegee om aan te trek. Nasa wou geen kanse vat met enige bakterieë wat hulle dalk van die maan af saamgebring het nie. Niemand het regtig geweet wat om te verwag nie. 

Die Apollo 11-bemanning, reeds in biologiese isolasiepakke sedert hulle van die maan teruggekeer het, kom aan boord van die USS Hornet.

Die Apollo 11-bemanning, reeds in biologiese isolasiepakke sedert hulle van die maan teruggekeer het, kom aan boord van die USS Hornet. Hulle stap na die mobiele kwarantyneenheid (regs). Dit is ’n woonwa wat spesiaal daarvoor ontwerp is en waarin hulle van daar vervoer moes word. 

Die Apollo 11-bemanning, reeds in biologiese isolasiepakke sedert hulle van die maan teruggekeer het, kom aan boord van die USS Hornet. Hulle stap na die mobiele kwarantyneenheid (regs). Dit is ’n woonwa wat spesiaal daarvoor ontwerp is en waarin hulle van daar vervoer moes word. 

Hulle maak die luik toe om, soos Armstrong sê, seker te maak dat niks met die rotse “ter waarde van miljoene dollar gebeur nie”. ’n Helikoper hys hulle op na die USS Hornet, waarna hulle dadelik in ’n mobiele isolasie-eenheid –  ’n aangepaste woonwa – klim. 

Die mobiele kwarantyneenheid, met die ruimtevaarders binne-in, word in Pearl Harbor in Hawaii van die USS Hornet afgelaai.

Die mobiele kwarantyneenheid, met die ruimtevaarders binne-in, word in Pearl Harbor in Hawaii van die USS Hornet afgelaai. Dit is van daar net so geneem na die Hickam-lugmagbasis en regstreeks na die Ellington-lugmagbasis in Houston, Texas gevlieg. Die ruimtevaarders is later van daar geneem na die Johnson-ruimtesentrum, waar ander kwarantyngriewe was. 

Die mobiele kwarantyneenheid, met die ruimtevaarders binne-in, word in Pearl Harbor in Hawaii van die USS Hornet afgelaai. Dit is van daar net so geneem na die Hickam-lugmagbasis en regstreeks na die Ellington-lugmagbasis in Houston, Texas gevlieg. Die ruimtevaarders is later van daar geneem na die Johnson-ruimtesentrum, waar ander kwarantyngriewe was. 

Een van die Apollo 11-bemannings lede word opgehys na ‘n helikopter nadat hulle na die Aarde tereg gekeer het. (Video: NASA-argiewe)

Een van die Apollo 11-bemannings lede word opgehys na ‘n helikopter nadat hulle na die Aarde tereg gekeer het. (Video: NASA-argiewe)

Die drie ruimtevaarders sou meer as drie dae in die woonwa bly en is selfs binne-in hom al die pad na die Johnson-ruimtesentrum in Texas gevlieg. Hulle was 88 uur lank saam met ’n dokter en ’n tegnikus in die mobiele isolasie-eenheid. 

Nadat pres. Richard Nixon hulle op die skip gegroet het en deur die glas met hulle gesels, het ’n lang reis vir die drie begin. Die woonwa is op die USS Hornet na die vlootbasis in Hawaii vervoer, van daar met ’n hyskraan op land afgelaai en oorgeplaas in die vragruim van ’n C-141-vliegtuig en na die Hickham-lugmagbasis gevlieg. 

Die drie ruimtevaarders, die tegnikus en dokter is binne-in die woonwa na die Ellington-lugmagbasis in Houston, Texas gevlieg. Daarna is die eenheid na Nasa se maanontvangslaboratorium in die Johnson-ruimtesentrum in Houston geneem. 

Eers hierna, ná drie en halwe dae, is hulle ’n groter kwarantyneenheid in dié sentrum binne, waar hulle nog 21 dae gebly het. Daar was reeds al ’n week lank personeel in dié eenheid, naamlik ’n kliniese patoloog, vyf laboratoriumtegnici, ’n navorser, fotograaf, drie helpers en ’n woordvoerder van Nasa. 

Verskeie mediese ondersoeke is gedoen, en hulle moes duisende tegniese vrae beantwoord. Hulle kon lees, tafeltennis speel, TV kyk en met hulle gesinne op die telefoon praat, maar die drie was nie baie gelukkig nie. Toe hulle ná ’n week gevra is hoe dit gaan, was Armstrong se antwoord: “Dit gaan so goed as wat jy kan verwag.” Maar Collins het reguit gesê: “Ek wil uit…”  

 Michael Collins, Buzz Aldrin en Neil Armstrong in die mobiele kwarantyneenheid.

Michael Collins, Buzz Aldrin en Neil Armstrong in die mobiele kwarantyneenheid. Foto: NASA 

Michael Collins, Buzz Aldrin en Neil Armstrong in die mobiele kwarantyneenheid. Foto: NASA 

Die drie was gesond, maar volgens Nasa moes hulle in kwarantyn bly om seker te maak dat nie een van hulle dalk ’n ernstige infeksie ontwikkel nie. Indien wel, sou hulle al drie langer binne moes bly. 

Neil Armstrong, Michael Collins en Buzz Aldrin op 24 Julie 1969 in die mobiele kwarantyneenheid.

Neil Armstrong, Michael Collins en Buzz Aldrin op 24 Julie 1969 in die mobiele kwarantyneenheid op die USS Hornet toe hulle pas van die maan teruggekeer het en pres. Richard Nixon hulle verwelkom het. Foto: NASA 

Neil Armstrong, Michael Collins en Buzz Aldrin op 24 Julie 1969 in die mobiele kwarantyneenheid op die USS Hornet toe hulle pas van die maan teruggekeer het en pres. Richard Nixon hulle verwelkom het. Foto: NASA 

Hul vroue het vir die ruimtevaarders kom groet.

Op 27 Julie 1969 was die drie steeds in die mobiele kwarantyneenheid. Drie dae nadat hulle geland het, het hulle op Ellington-lugmagbasis aangekom – die hele eenheid is in ’n C-141-vliegtuig gelaai en na Texas gevlieg. Daar het hul vroue hulle kom groet. Van links is Pat Collins, Jan Armstrong en Joan Aldrin. Foto: NASA 

Op 27 Julie 1969 was die drie steeds in die mobiele kwarantyneenheid. Drie dae nadat hulle geland het, het hulle op Ellington-lugmagbasis aangekom – die hele eenheid is in ’n C-141-vliegtuig gelaai en na Texas gevlieg. Daar het hul vroue hulle kom groet. Van links is Pat Collins, Jan Armstrong en Joan Aldrin. Foto: NASA 

Intussen het die media nog geen toegang tot hulle gehad nie, net die woordvoerder het daagliks oor hul welstand gerapporteer. Omdat hulle gesond is, het die dokters besluit om hulle ’n dag vroeër (op 11 Augustus om 01:00) uit te laat in die hoop om die media te ontwyk. Maar Armstrong, Aldrin en Collins het toe genoeg gehad en het self op 10 Augustus om 21:00 uitgestap. 

 Neil Armstrong sny op 5 Augustus 1969 in die maanontvangslaboratorium die koek vir sy 39ste verjaardag.

Neil Armstrong sny op 5 Augustus 1969 in die maanontvangslaboratorium die koek vir sy 39ste verjaardag. Die bemanning is steeds onder kwarantyn en het eers op 11 Augustus uitgekom. Foto: NASA 

Neil Armstrong sny op 5 Augustus 1969 in die maanontvangslaboratorium die koek vir sy 39ste verjaardag. Die bemanning is steeds onder kwarantyn en het eers op 11 Augustus uitgekom. Foto: NASA 

Ná ’n paar dae by die huis het hulle ná ’n mediakonferensie op 12 Augustus op ’n landwye toer gegaan. Hulle was nou internasionale helde en nie een van hulle se lewens sou ooit weer dieselfde wees nie. 

In September 1969 word die eerste rotse en stof van die maan in die Smithsonian in Washington uitgestal. Duisende mense staan ure lank tou om dit te sien.  

Die hele Apollo-program het 12 jaar lank geduur (dit het voor die eerste maanlanding begin) en het aan die einde van 1972 ten einde geloop. Uiteindelik het 12 mense – almal mans – op die maan geloop en selfs daar neergeslaan. Destyds het die hele program $25 miljard gekos. 

Wat ’n waaghalsige sending was dit nie. Daar was ontelbare onsekerhede. Al wat hulle gehad het, was vertroue in die wetenskap en tegnologie tesame met ’n goeie dosis van hul eie en ander se vermoëns. Net soos die ontdekkingsreisigers van ouds.  

’n Reuse-parade is in September 1969 vir die bemanning van Apollo 11 in New York gehou.

’n Reuse-parade is in September 1969 vir die bemanning van Apollo 11 in New York gehou. Foto: NASA 

’n Reuse-parade is in September 1969 vir die bemanning van Apollo 11 in New York gehou. Foto: NASA 

Om te leer en te ontdek is in die mens se natuur. 

In 1969 het Neil Armstrong op ’n mediakonferensie gesê: “Ek dink ons gaan na die maan omdat dit in die aard van die mens is om deur uitdagings in die gesig gestaar te wil word.  Dit is van nature in ons diep innerlike siel. Daar word van ons vereis om die dinge te doen – net soos van die salm om stroomop te swem.” 

Die sonnestelsel, en dalk nog verdere bestemmings, lê steeds oop voor ons. 

BRONNE: Smithsonian National Air and Space Museum; Apollo Flight Journal; Nasa Space Science Data Coordinate Archive; Johnson Space Centre; Where No Man Has Gone Before: A History of Apollo Lunar Exploration Missions; Science (22 Dec 1972); https://www.neilarmstrong.com/quotes/ 

Pres. Barack Obama van Amerika op 20 Julie 2009 in die Wit Huis saam met Buzz Aldrin, Michael Collins en Neil Armstrong.

Pres. Barack Obama van Amerika op 20 Julie 2009 in die Withuis saam met Buzz Aldrin, Michael Collins en Neil Armstrong ter viering van die 40ste herdenking van die eerste maanlanding. Foto: NASA/Bill Ingalls

Pres. Barack Obama van Amerika op 20 Julie 2009 in die Withuis saam met Buzz Aldrin, Michael Collins en Neil Armstrong ter viering van die 40ste herdenking van die eerste maanlanding. Foto: NASA/Bill Ingalls

Die eerste vrou gaan in 2024 na die maan gestuur word, volgens Nasa se terugkeerplan.

Die eerste vrou gaan in 2024 na die maan gestuur word, volgens Nasa se terugkeerplan. Voorstelling: NASA 

Die eerste vrou gaan in 2024 na die maan gestuur word, volgens Nasa se terugkeerplan. Voorstelling: NASA 

Terug maan toe

Die eerste vrou gaan oor vyf jaar in die Artemis-sending haar voetspore op die maan maak. 

Die mens gaan teen 2024 terug maan toe en dié keer gaan dit in twee fases uitgevoer word. Eerstens beplan Nasa om die eerste keer op die maan se suidpool te land en teen 2028 wil hy ’n gereelde teenwoordigheid op die maan hê. 

Die eerste vrou gaan ook dié keer in die nuwe maansending, Artemis, gestuur word: In die Griekse mitologie is sy die godin van die maan en die tweelingsuster van Apollo. 

Amerika gaan nie die reise alleen aanpak nie, maar saam met ander lande en kommersiële maatskappye. Dit sal die nuwe era in ontdekkingsreise inlui om uiteindelik na Mars te reis. 

Deel van die projek is Gateway, ’n ruimtetuig wat om die maan sal wentel om steun aan bemande en onbemande sendings na die maan te bied. Byna soos ’n permanente halfwegstasie. Die nuwe Ruimtelanseerstelsel (SLS) en die nuwe tuig, die Orion, sal die ruggraat wees om Gateway te bou en ruimtevaarders te vervoer. 

Deel van die nuwe maanprojek is Gateway.

Deel van die nuwe maanprojek is Gateway. Dit is ’n ruimtetuig wat om die maan gaan wentel om steun te bied aan bemande en onbemande sendings na die maan. Byna soos ’n permanente halfwegstasie. Voorstelling: NASA 

Deel van die nuwe maanprojek is Gateway. Dit is ’n ruimtetuig wat om die maan gaan wentel om steun te bied aan bemande en onbemande sendings na die maan. Byna soos ’n permanente halfwegstasie. Voorstelling: NASA 

Gateway sal dit moontlik maak dat mense maande lank in die ruimte kan bly en verskeie sendings van en na die maan, asook reise na verskeie gebiede op die maan kan onderneem. Die eerste deel van Gateway gaan in 2022 opgeneem word om die krag, aandrywing en kommunikasie daar te stel. 

Indien dit suksesvol is, sal ruimtevaarders nog twee seksies opneem, wat ’n leefarea, operasionele en wetenskaplike area sal aanbou. Mettertyd sal die Gateway ’n diensplatform word wat brandstof stoor en ’n laboratorium sal verskaf. 

Volgens Nasa maak dit meer sin om Gateway te bou omdat dit 1 000 keer verder van die Aarde is as om na die Internasionale Ruimtestasie te reis.  

’n Ander landingstuig sal mense van die Gateway na die maan se oppervlak en terug vervoer. In Mei vanjaar het Nasa 11 maatskappye aangewys om dié tegnologie te ontwikkel, asook om na die gebruik van brandstof te kyk. Dié eerste tuig sal nog voor die mense in 2024 na die Gateway gestuur word. 

Vir die eerste bemande sending in 2024 sal twee mense, ’n man en ’n vrou, met die nuwe landingstuig op die maan land, en nog twee sal in ’n wentelbaan om die maan in Gateway bly. 

Die toekoms in . . .

Op sulke lang sendings en teenwoordigheid op die maan sal ongekende wetenskaplike navorsing gedoen kan word en volgens Nasa sal dit die beste leerskool vir toekomstige reise na Mars wees.  Die eerste onbemande toetsvlug – Artemis 1 – is reeds volgende jaar en ’n robottuig sal in 2023 op die maan land. 

Meer wetenskaplike eksperimente gaan oor groter dele van die maan gedoen word. Volgens Nasa is die maan ’n skatkis as dit by die wetenskap kom. Die materiaal wat Apollo teruggebring het, het die begrip van die maan aansienlik verbeter, maar baie moet nog geleer word. 

“Ons glo die pole hou miljoene ton water. Water is krag. Dit verteenwoordig brandstof. Dit verteenwoordig wetenskap. Hoe verder mense die ruimte betree, hoe belangriker word dit om materiaal van plaaslike bronne te maak. Ons weet die maan kan ons meer oor ons eie planeet leer, ook van die son. Daar is baie wat ons uit ’n volgehoue teenwoordigheid op die maan kan leer,” volgens die Artemis-mediapakket. 

Die volgende robottuig na Mars, genaamd Mars 2020, word in 2020 gelanseer. Dit sal Nasa se mees gesofistikeerde robot nog wees. Vir die eerste keer (in Februarie 2021) sal mense op die Aarde kan sien wanneer ’n robot op ’n ander planeet land. 

Voorstelling van ’n nuwe maanlandingstuig wat hergebruik kan word.

Voorstelling van ’n nuwe maanlandingstuig wat hergebruik kan word. Dié keer gaan mense van ’n halfweghuis, die Gateway, na die maan vertrek en weer daarheen terugkeer. Voorstelling: NASA

Voorstelling van ’n nuwe maanlandingstuig wat hergebruik kan word. Dié keer gaan mense van ’n halfweghuis, die Gateway, na die maan vertrek en weer daarheen terugkeer. Voorstelling: NASA

Mars 2020 sal die eerste sending wees wat aktief na mikrobiese lewe op Mars sal soek en die aanvoorwerk vir menslike ontdekking sal doen. Kern- en grondmonsters sal met ’n boor versamel word en vir ’n volgende sending agterlaat om terug te bring. 

Volgens Nasa sal die eerste toetse gedoen word om suurstof uit die atmosfeer te maak, en daar sal aktief na waterbronne gesoek word. Die omgewing sal bestudeer word om toestande vir toekomstige menslike sendings na die planeet te ondersoek. Die eerste wetenskaplike doelwit is om te soek na tekens van oerlewe op die planeet, en of daar dalk steeds mikrobiese lewe is. Die tweede is om die klimaat te karteer en die derde is om die geologie van die planeet te bepaal. 

Robottuie word al dekades na Mars gestuur om om die planeet te wentel of daarop te land, maar die meeste het gesukkel om te land of het gebots. Nasa se Mariner 4 het in 1965 die eerste verbyvlug gedoen, en die Pathfinder-sending met Sojourner was die eerste om in 1997 suksesvol te land en op Mars rond te beweeg. Talle het intussen gevolg. 

Om op ’n ander planeet te staan sal van ons planeetpioniers maak. Verbeel jou jy staan op ánder grond wat 4,5 miljard jaar gelede saam met die res van die sonnestelsel ontwikkel het. Dit alles binne ’n groter heelal, wat 13,8 miljard jaar oud is. Verbeel jou jy kyk op maar dit is so moeilik om die verste sterrestelsel te sien, jy kan net sowel ’n vuurvliegie op die maan met die blote oog probeer sien. Jy kyk op en sien die son teen die ewige stikdonker agtergrond “opkom”. 

Die spore van diep oseane wat eens op Mars gevloei het, is duidelik daar te sien.  

Daar is selfs waterys onder die oppervlak; die skoppies van die robotte moet dit net skep maar dit verdamp vinnig. Dalk is daar nog lopende water onder die oppervlak, dalk nie. Dalk is daar fossiele van oer-mikro-organismes soortgelyk aan dié van die oudste vorms van lewe wat al op die aarde gevind is, naamlik die bekende Baberton-groensteengordel in Mpumalanga, waar van die oudste vorms van mikroskopiese lewe (3,3 miljard jaar oud) ontdek is.  

Miskien is daar mikroskopiese lewe. Of elders, selfs iets groters, iets heel anders. 

BRONNE: Explore Moon to Mars – Nasa; Artemis: Nasa; Nasa.gov. 

Die toekoms van ruimtevlug

Nasa is tans besig om die kragtigste vuurpylstelsel nóg, die ruimtelanseerstelsel (RLS), saam met die Orion-tuig te ontwikkel sodat hulle kan terugkeer na bestemmings soos die maan, asook Mars en selfs verder die ruimte in. Dit het reeds 'n onbemande toetsvlug die ruimte in geslaag.

Orion

Indien die  lansering skeefloop, skiet die bemanningskapsule outomaties weg. Dit bestaan ook uit 'n diensmodule sodat ruimtevaarders vir lang tye kan oorleef.

Ruimtelanseerstelsel

Bereik 'n spoed van 40 000 km/h om van die Aarde se gravitasiekrag te ontsnap.

EERSTE GENERASIE:

  • Gewig: 70 t
  • Lengte: 97,8 m
  • Gewig met brandstof: 2,49 miljoen kg
  • Loonvrag: 70 000 kg

Bron: NASA

Het jy geweet?

* Die tydlyn-handleiding

Neil Armstrong gedurende sy opleiding in ’n simuleerder met die handleiding, asook ’n tegniese handleiding soos dit vandag lyk. Foto: NASA 

Die afslaer Christie’s gaan op 18 Julie vanjaar die handleiding wat dit in 1969 moontlik gemaak het vir die ruimtevaarders om op die maan te land in New York opveil. 

Dié tydlyn-handleiding het al die tegniese besonderhede oor hoe om op die maan te land, asook hoe om weer op te styg. Na verwagting sal dit minstens $9 miljoen op die veiling haal. Dit beslaan 44 bladsye. 

* Hoe bly jy skoon?

Apollo 11 se higiëniese metodes was baie primitief in vergelyking met wat die geval vandag op ruimtevlugte is. Elkeen het ’n tandeborsel en buisie tandepasta gehad, en met elke maaltyd was daar ’n nat lappie.

Daar was ook droë handdoeke en snesies. Urine is opgevang in sakkies wanneer hulle aan boord of in hul ruimtepakke was, en daarna oorboord gegooi. (Dit word nie meer gedoen nie.) En feses is ook in sakkies opgevang, gestoor in leë koshouers en vir ontleding teruggebring.

* Kos in die ruimte

Foto: Apollo 11 Press Kit 

Die drie ruimtevaarders se kos was verpak in sakkies wat hidreer moes word, of dit was in blokkies wat hulle heel in die mond kon sit. Die spyskaart was vir al drie dieselfde. Daar was ook ’n peuselspens.

Hulle het kiemdodende pille in die sakkies gesit nadat hulle geëet het om fermentasie en gas te voorkom. In die peuselspens was verskeie eetgoed soos grondboontjiebotter, spek, worsies, perskes, kaas, kougom, sjokolade en ander lekkergoed wat in blokkies verwerk is. Daar was ook brood en verskeie smere.

* Gewig

Met lansering het Armstrong 78 kg geweeg, Colllins 75,3 kg en Aldrin 75,7 kg.

Met hul terugkeer het hulle onderskeidelik 74,4 kg, 72,1 kg en 75,3 kg geweeg. 

* Ruimte-entoesiaste – Delf dieper 

Daar is 19 000 uur se radiokommunikasie van net Apollo 11 digitaal beskikbaar. ’n Mens kan letterlik na elke woord luister wat gesê is. Ook van die ander Apollo-sendings. Soek “Apollo Flight Journal” en “Apollo Lunar Surface Journal” om diepter te delf. 

Besoek dit hier om alles te lees of te luister: https://www.hq.nasa.gov/alsj/main.html https://history.nasa.gov/afj/ 

Neil Armstrong gedurende sy opleiding in ’n simuleerder met die handleiding, asook ’n tegniese handleiding soos dit vandag lyk.

Neil Armstrong gedurende sy opleiding in ’n simuleerder met die handleiding, asook ’n tegniese handleiding soos dit vandag lyk. Foto: NASA 

Neil Armstrong gedurende sy opleiding in ’n simuleerder met die handleiding, asook ’n tegniese handleiding soos dit vandag lyk. Foto: NASA 

Kos in die ruimte

Foto: Apollo 11 Press Kit 

Foto: Apollo 11 Press Kit 

Apollo 11 - 50 jaar later, 'n spesiale Netwerk24-projek

Wetenskapjoernalis: Elsabé Brits
*
Taalversorging: Liesel Pienaar
*
Projekbestuurder: Maryke Cumpsty
*
Grafika: Jaco Grobbelaar
*
Stemkunstenaar: Susan Booyens
*
Klankredigering: Adrian de Kock

* Netwerk24 Hoofredakteur: Henriëtte Loubser

Bronne:
NASA; Project Apollo Archive; Apollo11 Flight Journal; Apollo 11 Press Kit; Smithsonian National Air and Space Museum; Nasa Space Science Data Coordinate Archive; Johnson Space Centre; Where No Man Has Gone Before: A History of Apollo Lunar Exploration Missions; Science (22 Dec 1972); www.neilarmstrong.com/quotes/; Nasa History Office – Apollo Missions to the Moon (edited by Edgar Cortright); Chariots for Apollo: A History of Manned Lunar Spacecraft; Nasa Special Publication (W. David Compton); Kennedy Space Centre; Apollo 11 Lunar Surface Journal;  Chariots for Apollo: A History of Manned Lunar Spacecraft.

LEES OOK:

* Met die maan gepla
* Die (eerste) man op die maan
* 'n Stukkie maanlanding aan die suidpunt van Afrika
* Foto's van maanlanding onder die hamer
* VSA mik vir 2024 vir bemande maanlanding

Teken in op Netwerk24
en kry élke dag onbeperkte toegang tot brekende nuus, sport, vermaak, menings en diepteontledings, asook drie dagblaaie, Rapport, die gemeenskapskoerante in jou streek, en gunsteling- Afrikaanse tydskrifte soos HuisgenootSarieWeg!, TuisKuier en 
Landbouweekblad.

Netwerk24 - Alles op een plek